‘n Jong juffie in ‘n minirokkie wat baie nou om haar heupies sit probeer op ‘n dag om in ‘n bus te klim. Tot haar verleentheid sit die rokkie so knap dat sy sy nie haar been gelig kry om dit op die eerste trappie van die bus te sit nie.
Effe verleë glimlag sy vir die busbestuurder, reik met haar hand na agter en trek haar zip ‘n bietjie af. Met die tweede probeerslag faal sy ook en weer gly haar hand na agter om die zippie verder af te trek, gepaardgaande met ‘n verleë glimlaggie in die rigting van die busbestuurder. Haar derde poging misluk ook jammerlik, aangesien die rokkie steeds te styf sit.
Vir ‘n derde keer trek sy die zippie verder af, maar voor sy haar been kan lig om op te klim, vat ‘n fris Westransvaler, wat agter haar in die ry staan, haar om die middel en sit haar gemaklik en sonder moeite binne in die bus neer.
Vererg draai sy om en gluur die man aan. “Meneer”, sê sy, “ons ken mekaar nie eers nie, hoe durf jy so aan my vat!”
“Nee juffie”, sê die man, “ek sou andersins met jou saamgestem het, maar nadat jy my gulp drie keer afgetrek het, het ek gemeen ons ken mekaar goed genoeg.”
Drie vriendinne, een in ‘n informele verhouding, een verloof en een ‘n lank getroude vrou, ontmoet oor ‘n paar drankies na werk.
Hulle besluit om hulle liefdeslewens bietjie op te kikker en die manne in hulle lewens te verras met ‘n stoutigheidjie.
‘n Week later kom hulle weer bymekaar.
Die enkel meisie sê, “Ek het na my vriend se kantoor gegaan met ‘n lang jas aan. Na almal weg is het ek die jas laat Val en al wat ek aangehad het was ‘n leer korset met swart sykouse en hoëhak skoene. Ons het net daar op sy lessenaar liefde gemaak.”
Die verloofde vrou sê, “Toe my verloofde by die huis aankom, het ek vir hom gewag met ‘n swart masker, korset, sykouse en hoëhakke. Ons het die hele nag passievolle liefde gemaak, en nou wil hy vroeër trou.”
Die getroude vrou sit haar glas neer en sê, “Ek het baie beplanning gedoen. Die kinders is na my ma toe, ek het ‘n lang bad geneem met gegeurde olie en my beste parfuum aangespuit. Ek het in ‘n stywe leer korset geklim met swart sykouse en ses duim hoëhakke, alles afgerond met ‘n swart masker. My man het by die huis gekom, ‘n bier en die afstandbeheer gegryp, homself op die bank neergeplak en uitgeroep…
Hei Batman, wat eet ons?
Man in Boksburg stuur sy vrou om te gaan inkopies doen. Sy kom terug met 3 kaste bier, 2 kaste brandewyn, 1 kas cane, 1 kas coke en 2 brode.
Hy kyk haar so toe sy die goedjies aflaai en vra : ’Kry ons kuiermense?’
‘Nee!!’ Sê sy, ’Hoekom ???’ vra sy.
Hy vra : ‘nou hoekom koop jy so baie brood??!!’